Ons hoor gereeld hierdie twee woorde in en om die kerk: “praise” en “worship”, oftewel lof en aanbidding. Die konteks; gemeentesang, die verstaan; lof = vinnige (opgewekte) liedjies en aanbidding = stadiger (meer geweide) liedjies. Maar hierdie twee woorde het niks te doen met tempo, styl of selfs musiek nie en alles met die toestand van my hart.

In Psalm 103 skryf Dawid, “Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.” Lof is ‘n keuse (ek wil) en gebore vanuit my eie behoefte om aan God erkenning te gee vir wie Hy is en dat hy waardig is om geprys te word. Dit kom gewoonlik vanuit ‘n plek van dankbaarheid en soms ‘n plek van onsekerheid of suffering. Om die Here te loof vra altyd iets van my en is dikwels ‘n opoffering van tyd of gemak. Dit is wanneer ek hierdie besluit neem dat ek gewoonlik bewus raak van God se teenwoordigheid. Vanuit lof besef ek hoe naby Hy regtig is en dat Hy nog die heeltyd na my soek.

Wanneer ek wakker word vir God se teenwoordigheid vra Hy nie dat ek nóg iets moet doen nie, maar lok eerder ‘n reaksie uit. Hierdie reaksie is soms onwillekeurig en dus nie iets wat van myself kom nie. Die griekse woord vir aanbidding wat gereeld in die nuwe testament gebruik word is proskuneo (pros-koo-neh’-o). Dit beteken om (letterlik of figuurlik) te kniel, buig of heeltemal op die vloer uit te strek in reaksie tot iets ‘groter’ as myself. Nog ‘n definisie sê dit is soos om vooroor te buig en iemand se hand te soen, of soos ‘n hond wat sy meester se hand lek. Hierdie tipe reaksie is gewoonlik meer outomaties, eerder as ‘n doelbewuste keuse, omdat dit uitgelok word deur ’n besef van wie God werklik is.

Ons kan dus sê lof is dit wat ek bring as ‘n offer aan God, bloot omdat hy waardig is. Dit word deur my ingestel. Aanbidding is my natuurlike reaksie op dit wat God vir my gee/bring/wys van wie Hy is. Dit word deur God ingestel.

  • Hoe lyk hierdie wisselwerking in jou lewe?
  • Wanneer laas het jy gereageer op God se teenwoordigheid?
  • Hoe het jy gereageer?

2 thoughts on “Vinnig of Stadig?

  1. Dankie Stephan hiervoor – dit is bitter nodig!

    Ek is mal oor die drie vrae op die einde!

    Ek sal wat wil gee om bietjie in gesprek te wees oor hierdie onderwerp, want dit pla my geweldig soms die boksies wat mense uit gewoonte lofprysing en aanbidding gee – en hoe dit in gemeentes geimplimenteer word. ‘n Vriend van my bring die volgende gedeelte tussen lofprysing en aanbidding in: “pondering moment”. Daardie fisiese oomblik wat jy spontaan/(“onwillekeurig”) reageer op die Here se teenwoordigheid. God is groot!

    Liked by 2 people

  2. Heeltemal reg Stephan! Ek raak sommer lam as mense praat van sing as “worship.” Worship is n leefwyse. Dit wat jy sê oor lof en aanbidding is ook 100%. Die skaars boek van Derek Prince: “Entering the presence of God” het my help dit verstaan. Enige aanbiddingsleier moet weet wat jy geskryf het.

    Liked by 2 people

Leave a comment